Skaars ’n generasie gelede was uiteet ’n okkasie en kitskos- en wegneemetes die uitsondering eerder as die reël.
Deesdae lyk die prentjie baie anders.
“Suid-Afrikaners bestee bykans R2 miljard per maand aan kitskos, wat meer as 10% van hul totale vrye besteding verteenwoordig,” sê Linda Reid, hoof van kommersiële ontwikkeling by Lightstone Explore.
“Sommige huishoudings koop tot drie keer per week wegneemetes. Alles hang af van die inkomstevlak en nabyheid aan ’n kitskos-afsetpunt.”
Lightstone Explore spesialiseer in die bou van modelle en ontleding van datastelle om met oplossings vorendag te kom en geleenthede uit te wys vir kliënte uit verskeie sektore. Die maatskappy het onlangs ’n groot volume bevolkings- en ekonomiese data ontleed om kitskos-konsessiehouers te help besluit op die beste liggings vir hul takke.
Die studie toon ’n aantal interessante neigings:
- Daar is sowat 50 kitskos-kettinghandelsmerke in Suid-Afrika wat uit 5 800 handelsmerk-afsetpunte bedryf word.
- Die 15 tophandelsmerke verteenwoordig 80% van die winkels.
- 90% van Suid-Afrikaners bly binne 5 km vanaf minstens een kitskos-afsetpunt en bykans die helfte het ’n kitskos-restaurant binne 1 km van hul huise af.
Die 15 top-kitskoshandelsmerke, in volgorde van die meeste tot minste afsetpunte, is:
- KFC
- Steers
- Wimpy
- Debonairs Pizza
- Nando’s
- Chicken Licken
- King Pie
- McDonald’s
- Fishaways
- Roman’s Pizza
- Chesa Nyama
- Pie City
- London Pie/Hot Dog Café
- The Fish & Chip Co.
- Domino’s Pizza
Daar is uiteraard baie variasie, maar huishoudings in die hoogste inkomstegroepe bestee waarskynlik tussen R1 400 en R1 500 per maand aan wegneemetes. ’n Tipiese gesin binne dié kategorieë sal min of meer twee keer per week ’n kitskos-franchise besoek en elke keer meer as R200 bestee.
Aan die laer punt van die inkomstespektrum sal gesinne gewoonlik minder as een keer per maand kitskos koop. In die loop van ’n jaar sal hul maandelikse besteding tussen R10 en R70 wees.
Huishoudings in die Johannesburg-, Kaapstad-, Tshwane-, Ekurhuleni- en eThekwini-metro’s is die grootste spandeerders.
“Ongelukkig is hierdie data nie in gerieflike klein homogene kolle oor die land heen versprei nie,” sê Reid. “Weens Suid-Afrika se besonder oneweredige verspreiding van inkomste is daar in sommige gebiede baie mense met min om te bestee en in ander minder mense met baie om te bestee.”
Indien kitskos-kettings wil uitbrei, moet franchisehouers weet waar die onversadigde markte is, sê Reid. “Dit is gebiede waar mense besteebare inkomste het, maar waar toegang tot kitskos-afsetpunte beperk is.”
Met die land wat in ’n resessie is en die moontlikheid van rentekoerse en brandstof- en voedselpryse wat gaan styg, sal daar waarskynlik nou minder geld wees om aan relatiewe luukses soos restaurant- en kitskosetes te bestee.
Afgelaai vanaf http://www.netwerk24.com/Sake/Muntslim/Geldsake/hoe-nader-die-kitskos-hoe-meer-koop-ons-20170624 op 25 Junie 2017